Geloofsstandpunt

 GHG

KERNWAARHEDE 

1. Die Bybel is die Woord van God: 

• In lyn met Artikel 2 van die Nederlandse Geloofsbelydenis, glo ons dat God se open baring in sy Woord genoegsaam is vir ons saligheid. 

• Die Bybel is deur God geïnspireer en dra daarom 'n gesag wat bo enige menslike insigte en wysigings uitstyg. 

• Ons gebruik die volgende Afrikaanse vertalings/hersiening as openbare teks by die erediens, kategese, Bybelstudie, huisgodsdiens en stiltetyd: 

1933 Vertaling, 1953 Hersiening, 1983 Vertaling, Bybel vir Almal. (Ons neem kennis van die 2016 Bybel: 'n Direkte Vertaling in wording.) Enige vertaling bly deels interpretasie. Ons lê uit en verkondig egter vanuit die grondtekste, bedoelende Hebreeus (en Aramees) ten opsigte van die Ou Testament, en Grieks ten opsigte van die Nuwe Testament. 

 

2. 0ns staan by die drie Ekumeniese Geloofsbelydenisse en bely soos en met die kerk van alle eeue ons geloof, met dieselfde betekenisinhoud. In ons tydsgewrig waarin sekere belydeniselemente anders geïnterpreteer word, plaas ons besondere klem op: 

• Die werklike maagdelike verwekking.

• Die fisiese en werklike opstanding van Jesus Christus uit die dood. 

• Die Hemelvaart, die Wederkoms, en 'n ewige Lewe. 

 

3. Die drie Belydenisskrifte, te wete die Nederlandse Geloofsbelydenis, Heidelbergse Kategismus en Dordtse Leerreëls, vorm deel van ons belydenisgrondslag en ons lê klem op; 

• Die sonde van die mens. 

• Die soenoffer van Christus aan die kruis. 

• Geloofsgehoorsaamheid as vanselfsprekendheid om dankbaar te lewe.

• Slegs geloof in en deur Christus bring redding – Solus Christus.

• Ons beskou kerklike eenheid as 'n saak te vind in belydenis, en nie in struktuur nie. 

• Ons verstaan van die sakramente word verwoord in die Belydenisskrifte en in die formuliere vir die bediening van die Doop en Nagmaal. Ons lees die formuliere voor tydens die bediening van die sakramente. 

 

4. Die Staat van Belydenis as 'n aanspreek van moderne dwalinge. Daar is sewe sake wat aangespreek word omdat hierdie sake prominent na vore tree in die teologiese dokumente van ons tyd: 

1. Die mens is geskape na die beeld van God. Daar is niks Goddeliks in die mens nie, die mens is net skepsel. (God se beeld is nie in die Mens nie.) 

2. Ons staan by die Evangelie van vergifnis soos dit in Jesus Christus in ons wêreld werklikheid geword het. Vergifnis vind plaas omdat God vergewe (vertikaal van bo na onder). Die sogenaamde evangelie van deernis is 'n mensgemaakte boodskap wat nooit meer as mens tot mens (horisontaal) sal kan wees nie. 

3. Ware Evangelieverkondiging is die kern waaroor dit gaan in die kerk, en nie een of ander sosiale geregtigheid wat nagejaag moet word nie. 

4. Die huwelik is deur God ingestel en daarom koester ons die lewens-verbintenis deur een man en een vrou in die huwelik. 

5. Ons binding aan die Belydenisskrifte word gekenmerk deur die sogenoemde quia- beginsel; ons staan by die Belydenisskrifte omdat dit met die Bybel ooreenstem. Die beginsel wat ons ten sterkste afwys, is die quatenus- beginsel. Volgens hierdie beginsel is die Belydenisskrifte net bindend vir in soverre dit met die Bybel ooreenstem. 

6. Ons is oortuig dat die Bybel alleen die volle inhoud van, en vir ons saligheid verskaf – Sola Scriptura. 

7. Die waarheid alleen. Om die waarheid te praat, is 'n Bybelse eis. 

 

IDENTITEITSKENMERKE 

Anders as die kernwaarhede, is die identiteitskenmerke se skopus wyer. Buiten teologiese beginsels, is ander faktore ter sprake en gemeentes het konsensus oor die volgende sake: 

• Ons orden onsself as selfstandige gemeentes en verstaan onsself as die voortsetting van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika soos voor 2010. Elke gemeente is volledig kerk. 

• Ons orden sake in die gemeentes op 'n besondere manier. Elke gemeente aanvaar self die Kerkorde se ordereëls as 'n eie kerkorde. 

• Die Kerkorde word baseer op die beginsels van die Presbiteraal-sinodale kerkreg.

• Konsensus dien ons samewerking. Die onderlinge band tussen gemeentes van die Geloofsbon d is ondersteunend en nie voorskriftelik nie. 

• Ons gemeentes is volkskerk. Volkskerk dui op 'n praktiese manier van evangeliebediening. Dit beteken dat ons glo dat die Woord op elke mens, in sy of haar eie taal en kultuur, 'n appel rig. 

 

IDENTITEITSKONSENSUS 

Ons glo dat ons liturgiese ordes in gewydheid die karaktervan die Belydenis moet weerspieël. Daarom is daar ook 'n basiese eenvormigheid in ons gemeentes se eredienste. 

• Ons uitgebreide liedboek word in eredienste gebruik. Die inhoud van ons liedere staan in lyn met die Woord en die Belydenis . 

• Alhoewel tradisie feilbaar is, is dit vir ons belangrik. Ons hou by die tradisie waarin ons grootgeword het. Dit dra ons, sonder om voor te skryf.