Geskiedenis van die Geloofsbond

 

 

Hierby staan ons, dit kan nie anders nie:

Tree ons weg, tree ons uit die ware LIG.

Tree ons terug, versaak ons die WAARHEID.

Tree ons uit, verloor ons die LEWE.

 


 

 

steedsHervormers

Tydens ‘n vergadering wat plaasgevind het op 12 November 2011, waartydens 66 gemeentes van die NHKA verteenwoordig was met ‘n totale bywoning van 268 lidmate , is die volgende besluite geneem:

1. Die steedsHervormers belydenis gespreksgroep is amptelik in die lewe geroep. Kortliks word die steedsHervormers as volg gedefinieer:

 

Hierby staan ons, dit kan nie anders nie:

Tree ons weg, tree ons uit die ware LIG.

Tree ons terug, versaak ons die WAARHEID.

Tree ons uit, verloor ons die LEWE.

 

Op grond van die huidige geloofskrisis in die Kerk besluit ons as gemeentes en lidmate van die NHKA om ons te versamel as ‘n konfessionele groep (belydende gespreksgroep) met die naam “steedsHervormers”. Hiermee wil ons te kenne gee dat;

· ons steeds onsself sien as Hervormers en as die ware voortsetting van die NHKA,

· ons nie van die NHKA wil wegskeur nie,

· ons vereenselwig onsself met die teologiese tradisie van die NHKA.

As steedsHervormers wil ons getrou bly aan die tradisie en geskiedenis van die Hervormde Kerk;

· Ons bly getrou aan die Bybels-Reformatoriese teologie soos bedryf in die Hervormde Kerk oor geslagte heen. Dit beteken dat ons werk met die Bybel as die Woord van God, die gesagvolle openbaring van God. Ons gee gehoor aan die wekroep om telkens te hervorm na die eise van die Skrif. Ons staan by die belydenisskrifte en bely met die geloofsbelydenisse onverkort en sonder interpretasie wat eie inhoude gee. Ons onderteken die belydenisskrifte omdat hulle met die Bybel ooreenstem (quia).

· Ons bly getrou aan die liturgie wat getuig van gewyde, respekvolle en stigtelike diens aan God Drie-Enig.

· Ons verstaan onsself as volkskerk, ons is oortuig dat mense verskillend in die skepping is en dat volkskerkgerigte sending hierdie verskille eerbiedig en die uitdra van die evangelie bevorder.

Hiermee grens ons onsself af van die:

  • liberale teologie wat werk met ‘n oop kanon en die Bybel sien as menslike nadenke oor die goddelike.
  • Ons distansieer onsself van diegene wat die belydenisskrifte verstaan as dat hulle net geld in sekere instansies insoverre die belydenisskrifte ooreenstem met hulle nuwe verstaan van die Bybel (quatenus).
  • Ons grens onsself af teen diegene wat van die erediens ‘n vermaaklikheidsgeleentheid maak waartydens die mens in die middelpunt te staan kom.
  • Ons grens ons af teen die bevrydingsteologie wat werk met ‘n integrasiemodel wat alle menslike verskille sonder respek ignoreer.

Gemeentes, ampsdraers en lidmate word opgeroep tot eensgesindheid en rustigheid. Verder word alle gemeentes, ampsdraers en lidmate opgeroep om hulle uit te spreek oor hulle deelname al dan nie aan die belydende gespreksgroep genaamd steedsHervormers.

Historiese aanloop:

Die optrede van ons as steedsHervormers binne die Kerk het ‘n lang aanloop gehad en het alles met teologie en weining met mag of politiek te make. Op teologiese vlak moet die wending in die Kerk op twee vlakke aangedui word. Aan die een kant was daar al hoe meer ‘n vrysinnigheid in die teologie te bespeur, met die boek van AG van Aarde as die duidelikste baken van ‘n teologie wat geloof ondergrawe. Nie net die maagdelike verwekking van Jesus is in die spervuur nie, maar ook die opstanding. Die kanon word as oop hanteer (met ander woorde boeke soos die Thomas-evangelie word byvoorbeeld gesien as ‘n belangrike bron vir teologie-beoefening), en die band tussen Ou Testament en Nuwe Testament word ontken.

 

Op etiese vlak kom die nuwe teologiese rigting aan die orde in die manier waarop die huwelik in gedrang gebring word. Vele voorbeelde sou gestel kon word, maar die duidelikste voorbeeld is die beskerming wat die Hervormde dosente bied aan ‘n homoseksuele student. Op hulle aandrang is die student wat in ‘n openlike intieme verhouding met ‘n man is, steeds student van die Kerk, studeer hy einde 2012 af en sal dan vroeg 2013 beroepbaar wees. Die dosente se etiek is ver verwyderd van dit wat ‘n geslag gelede die oortuiging was. Daarmee saam het die fakulteit as oop ekumeniese instansie geen duidelike Hervormde inslag nie.

 

In die nuwe liturgie sien ons dan ook die tweede stroom van verandering wat die Kerk wil oorspoel. Die mens (humanisme) het in die hele proses dan ook vir God vervang as middelpunt van die Kerk. Die erediens en alles wat met hierdie belangrike ontmoeting met God te make het, is die beste aanduiding van die tweede teologiese rigtingverandering. Kansels word vervang met ‘n verhoog, die Wet en Belydenis word afgemaak en as oudmodies beskryf en ‘n vreemde liturgie stroom gemeentes binne in so ‘n mate dat Hervormers nie tuis voel in hulle eie Kerk nie. Die Liedboek word aangevul met “geestelike liedjies” en die fokus val op die mens wat goed voel met die sing van liedere.

 

Op kerkleidingvlak was dit reeds onder die leiding van prof. Johan Buitendag duidelik dat ‘n groep binne die Kerk ‘n nuwe rigting ingeslaan het en die Kerk wou saamneem. Die selektiewe Colloquium was ‘n belangrike rigtingaanduider. Een van die sake aldaar was die beplande eenwording (struktureel) met die HKSA. Die Kerk was nie reg vir die vinnige verandering van rigting nie en die Buitendag Kommissie is uitgestem. Agter die skerms is daar steeds hard gewoeker en dit was veral ten opsigte van sake rondom ekumene waarop die meeste fokus geplaas is.

 

‘n Struikelblok in die onderhandelings met WARC het die dosente se volgende reaksie ontketen. Hulle het in lyn met die verwagting van die WARC apartheid tot sonde verklaar en lidmate en ampsdraers uitgenooi om by hulle aan te sluit. Daar is geen manier om die reaksie te kontroleer nie, maar die gebeure in aanloop tot en by die 69e AKV dui daarop dat hulle deur genoeg steun bemoedig is om voort te gaan. Hulle verklaring in die openbare media en die storm in die Kerk het ‘n paar ampsdraers tot aksie gedwing in ‘n poging om die probleme wat geskep is, aan te spreek.

 

‘n Klagskrif met onder andere verskeie klagtes van dwaalleer is in 2009 teen sommige van die dosente gelê, met verbygaan van die broederlike gesprek, in die lig van die ernstige klagtes wat teen die dosente ingebring is. Die Kommissie het egter die klag terug verwys en op ‘n bemiddelde gesprek aangedring. Die gesprek se fokus was die verklaring en in die gesprek het nie veel gekom van die ander ernstige klagtes nie (Die klagskrif is beskikbaar indien iemand feite wil kontroleer). Die gesprek was onbevredigend en die verklaring wat uitgereik is deur die dosente was nie aanvaarbaar vir die klaers nie. Met die AKV voorhande het die klaers besluit om die saak eers daar te laat. Die een saak waaroor ooreengekom is, was dat die dosente se standpunt in die agenda opgeneem sou word, asook die standpunt van die klaers.

 

Die agendakommissie wat die 69e AKV se agenda opgestel het, het verkeerdelik die beskrywingspunte toegelaat. Die Kerkorde skryf ‘n ander proses voor. Die uitslag van die 69e AKV is bekend en die probleme en ongerymdhede rondom die besluit is opgeteken in die beswaarskrif wat deur teenstemmers opgestel is. Die Kerk se hantering van die beswaarskrif is ook reeds goed gedokumenteer en daar sou nog baie gestel kon word rondom die manipulasie van die BAKV.

 

Uit die Kommissie se hantering van die beswaarskrif en die sake wat daarmee saamgaan, het ‘n paar sake duidelik geword.

· Daar is nog ‘n groot groep ampsdraers en lidmate wat nie tuis voel binne die nuwe denke wat die NHKA stelselmatig inbring nie.

· Die lojaliteit van ouderlinge kan misbruik word om selfs ‘n vreemde leer (beeld van God in die mens) en ‘n leuen (verwysing na ‘n besluit wat nooit geneem is nie) te beskerm.

· ‘n Beswaarskrif sal nie suksesvol kan wees nie, al is daar onbetwisbare bewyse dat die beswaarskrif korrek is.

· Die kerkleiding is in die hande van mense wat die nuwe teologie ondersteun. Die nuwe teologiese rigting verdra alles behalwe mense wat beginselvas wil wees. Inklusiwiteit wat enige eksklusiewe denke uitsluit!

· ‘n Teenstem sal nie langer binne die Kerk verdra word nie, ten spyte van mooi praatjies oor “eenheid in diversiteit”..

· ‘n Regsgeding teen die Kommissie van die AKV (die ultra vires aard van 54/69) word gesien as ‘n doodsonde en lidmate wat daarmee besig is, of selfs net die saak ondersteun, is nie welkom in die Kerk nie.

Watter rol speel die aanvaarding van beskrywingspunt 54 (54/69) en die opvolgbesluit?

· 54/69 kon slegs geneem word, indien ‘n sekere soort teologie oorheers.

· Die bevrydingsteologie wat op die mens fokus, is die agtergrond van anti-apartheidsbesluite in die verlede in ander kerkgroepe.

· Die beswaarskrif het die teologiese en prosedure foute duidelik uitgewys.

· Die BAKV het 54/69 gehandhaaf, die besluit staan steeds as besluit van die Kerk.

· Die opvolgbesluit stel in ander woorde dieselfde as 54/69 maar is ook erger.

· Die BAKV opvolgbesluit is geneem sonder dat korrekte prosedures gevolg is en sonder dat die saak op die agenda was.

· Die opvolgbesluit herroep ook enige ondersteuning aan afsonderlikheid in die verlede, die saak van bevrydingsteologie staan soveel sterker in die nuwe besluit.

 

Teen hierdie agtergrond is dit belangrik om net weer te stel dat dit die nuwe teologie is, wat die besluite wat geneem is, moontlik maak. Die Kerk se nuwe teologie, soos aangedryf deur die meeste van die dosente, het ook sy oorsprong in die vrysinnigheid en humanisme wat so eie is aan die huidige fakulteit aan ‘n staatsinstansie. Dit is teen hierdie nuwe, vreemde teologie dat ons as die steedsHervormers sterk standpunt inneem. Ons wil steeds staan by die teologie wat ons as eie aan ‘n lang kerklike tradisie ag. Slegs die Skrif, slegs Christus en slegs geloof. Die woordjie “slegs” (sola) moet nie gesien word as wederkerig uitsluitend nie; aangesien elkeen van die drie binne ‘n ander konteks verstaan moet word.

 

Sola scriptura – Die bron van ons geloof is die Skrif en net die Skrif. Teenoor die Roomse Kerk wat tradisie as gesagvol verstaan het, het die Reformatore net die Bybel as gesagvol aanvaar. Vandag stel ons teenoor die vrysinniges steeds sola scriptura, en nie nog Thomas en die teoretiese Q-bron en ander geskrifte nie, maar die hele Skrif as enigste bron van gesag.

 

Solus Christus – Teenoor die Roomse Kerk se heiliges en moeder Maria het die Reformatore gestel slegs Christus kan red. Vandag stel ons teenoor die vrysinniges se liefde as reddingsdaad steeds dat net Christus as Seun van God kan red, en maak ons daardie eksklusiwistiese aanspraak. Christus is redder en saligmaker, nie goeie morele voorbeeld, of shamaan, of subversiewe rabbi nie.


 

Sola fidei – Geen geld of goeie dade kan jou red nie, het die Reformatore teenoor die Roomse Kerk gestel. Net geloof red. Vandag stel ons steeds teenoor die vrysinniges dat net geloof red, nie die liefde nie. Geloof gaan oor gehoorsaamheid, nie oor inklusiwiteit nie. Anders gestel, mens word nie gered op grond van inklusiwiteit nie, almal wat glo, word ingesluit by die wat gered is.

 

Sola Gratia – Die Reformatore het teenoor die Roomse Kerk gestel dat daar geen verdienste kan wees nie. Die mens is passiewe ontvanger van genade, God het geen hupstoot nodig om die mens te red nie. Teenoor die vrysinniges getuig ons vandag dat die mens nie inherent goed is en dat God dan net daardie laaste bietjie genade bygee nie. Die humanisme dring daarop aan dat die mens se heil in liefde te vind is. Ons getuig alles is louter genade.

Dit is hierdie oortuigings wat ons gebring het by ‘n punt waar ons stel dat ons by sekere sake staan, of dan sal moet val, dit kan nie anders nie. Om getrou te wees aan hierdie beginsels, is nie onderhandelbaar nie.

Historiese relevansie:

Hierdie standpuntinname is nie sonder presedent nie. In 1995 het die eietydse verklaring uitgekom op grond van die vurk in die pad wat toe gesien is. Deur gesprek en beloftes van onderhandel en inspraak, is gemoedere gekalmeer en het die saak doodgeloop. In die tussentyd het dit in 15 jaar nie beter gegaan nie, maar eerder al hoe meer vrysinnig in teologie en liturgie gegroei. Ampsdraers en lidmate wat die vurk in die pad gesien het, kan nie meer verder al hoe erger wydsbeen loop nie. Die vurk is ver in die verlede en die twee paaie loop al hoe verder uitmekaar. Die keuse moet dus nou gemaak word: Watter pad gaan jy bewandel?

Die pad wat deur steedsHervormers voorgestel word, is ‘n pad wat duidelik uit die verlede die toekoms inloop met duidelike beginselpadtekens. Ons wil bly by

· die fundamentele van Skrif en belydenis, dit wil sê ons handhaaf die standpunt dat die Bybel die Woord van God is en dat die belydenisskrifte die basiese beginsels van die Bybel verwoord.

· ‘n Bediening wat die volkskerk as goeie werkbare manier van verkondiging handhaaf.

· Goed opgeleide predikante wat akademies sterk staan, wat daarmee saam ‘n geloofbouende opleiding ondergaan en nie vrysinnigheid aangeleer word nie.


 

Om op te som:

· Ons voel nie tuis binne die nuwe teologiese rigting wat stelselmatig in die NHKA ingevoer word nie, dit is volgens ons nie Reformatories nie.

· Ons staan by die Bybel en verstaan die Bybel as die Woord van God.

· Ons staan by die waarhede wat ons as fundamentele waarhede sien, wat insluit die Skrif alleen, genade alleen, geloof alleen en Christus alleen.

· Ons gaan wou onderhandel met die Kommissie van die AKV oor akkommodasie binne die NHKA.

· Ons verstaan onsself as die voortsetting van die teologiese tradisie van die NHKA. In teenstelling daarmee staan die nuwe teologiese rigting, en ons voel tuis by nóg die liberale teologie met sy humanisme, nóg die bevrydingsteologie met sy inklusiwiteit ten koste van eie identiteit.

Ons nooi lidmate uit om by ons aan te sluit, maar plaas geen gewetensbinding op enige persoon nie. Ons wil net kerk wees en die Here dien.

 

INLEIDING

In 1995 het 'n aantal teoloë, ampsdraers en gelowiges van die NHKA 'n klein publikasie getitel: ’n Eietydse Getuienis op Hervormingsdag uitgegee. In die publikasie word die stelling gemaak dat daar, teologies gesproke, ‘n vurk in die pad van die NHKA as geloofsgemeenskap gesien kan word. Almal is opgeroep en vermaan om soos die kerk en sáám met die kerk te bely.

Hierdie oproep is met afwysende kritiek begroet en die indruk is geskep dat daar nie in die Kerk verskil mag word van die standpunte en opvattings van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering (KommAKV), die Dosentevergadering en die AKV nie. Dit is dan gerugsteun deur die knuppel wat verskuil is in Ordinansie 8.6 van die Kerkorde. Die werklike probleem naamlik dat die Belydenisskrifte van die kerk wat die leer van die kerk uitdruk weerspreek word, en dat die eenheid in die kerk daardeur versteur word, is na die publikasie van die Eietydse Getuienis nie weer hanteer deur kerklike vergaderings nie. Al wat gebeur het, is dat die kritiek op hierdie laksheid, ondanks die feit dat alle predikante die proponentsbelofte (Ordinansie 1.1.2) onderteken het, geïgnoreer is. Dit was opvallend dat die KommAKV van sy meerderheidsteun op die AKV gebruik gemaak het om so die indruk te vestig dat die waarheid dieselfde is as die mening van die meerderheid op die AKV. Dit het nogal laat dink aan die waarskuwende en afwysende woord van die NGB, art 29 ten opsigte van die valse (destyds: die Roomse) kerk: "Die skryf aan homself en sy besluite meer mag en gesag toe as aan die Woord van God."

Ondanks die skouerophalende verbygaan van die Eietydse Getuienis het die steedsHervormers bly vashou aan die leer van die drie Formuliere van Eenheid wat nie beskou word as 'n "verkorte Bybel" nie, maar as die maatstaf waarmee gemeet moet word as die kerk as 'n geloofsgemeenskap wil bestaan en voortbestaan as deel van die een heilige algemene kerk soos ons dit bely.

Daarom maak ons as steedsHervormde predikante erns met die verpligtinge wat die ondertekening van die proponentsformule op ons lê en wat verder uitgespel word in die Bevestigingsformulier vir predikante. Daarby staan die ouderlinge en diakens onder ons vas by die opdrag wat hulle ontvang het en die beloftes wat hulle afgelê het by hulle bevestiging in hulle dienswerk, terwyl die gelowiges hulle belofte handhaaf wat hulle afgelê het toe hulle belydende lidmate geword het.

So gesien, verteenwoordig die steedsHervormers 'n leer wat nie afwyk van die drie Formuliere van Eenheid nie en staan ons juis as getuies dat dit die inhoud van ons geloof is. Daarin weet ons dat ons in die geloof verbind is aan die vadere wat ons voorgegaan het en wie se besluite en dade ons teen die agtergrond van hulle tyd 2 beoordeel sonder om hulle en hulle dade, ter wille van dienstigheid in ons tyd, óf te verketter óf te verdoem.

Vanuit hierdie oorwegings het ons in 2011 'n Beswaarskrif ingedien oor Beskrywingspunt 54 wat op die 69e AKV (54/69) aanvaar is en daarin gestel: Daardie besluit verloën nie net die Bybelse antropologie nie, maar die ganse Christelike soteriologie (verlossingsleer) en per implikasie die Bybelse leer oor God. Met die Buitengewone Algemene Kerkvergadering (BAKV) van Oktober 2011 is 54/69 gehandhaaf ondanks die besware wat daarteen ingebring is. Dit ten spyte van die feit dat alles in werking gestel is om die besluit te laat herroep.


 

Die pogings om die afwykende veranderinge in teologiese nadenke hok te slaan sluit in, maar is nie beperk nie, tot die volgende:

· Meer as 140 genotuleerde teenstemme.

· Uitgebreide regsadvies wat gratis aan die Kommissie beskikbaar gestel is.

· Talle gemeentes het hulself as Kerkrade en Gemeentevergaderings gedistansieer van die aanvaarding van 54/69.

· ‘n Magdom skrywes is gerig aan die Kommissie wat vra dat die besluit herroep moet word.

· ‘n Beswaarskrif is ingedien.

· Verskeie memoranda is in die Kerk gesirkuleer.

· Omvattende memoranda is nagevors, geskryf en beskikbaar gestel vir opname in die agenda vir die BAKV.

· Deelname aan die BAKV met oorgawe, ten spyte van ernstige voorbehoude.

· Byeenkomste is gehou om lidmate en ampsdraers bewus te maak van die krisis.

· Verskeie vergaderings van gemeentes en groepe is op versoek toegespreek.

· Inligtingstukke wat essensies aandui is versprei.

· Gesprekke met die Kommissie van die AKV (KommAKV).

· Gesprekke met die Bemiddelingskomitee in groot- en kleingroep.

· Pogings om ‘n modaliteit in die kerk te vestig.

· Pogings om ‘n vereniging na eie voorkeur te stig.

· Opvolggesprekke met die Moderamen en die Kommissie.

· Privaat gesprekke met lede van die Bemiddelingskomitee en die KommAKV.

· Die opsie om te doleer, is ondersoek.

· Verder is daar selfs deur middel van die terughou van heffings gepoog om die situasie aan te spreek.

 

Teen hierdie agtergrond is dit duidelik dat alles denkbaar en kerkregtelik moontlik in die stryd gewerp is om die AKV se swaai na liberale denke en teologie te rem of selfs te stuit. Die oortuiging leef by ons dat die nuwe rigting in sy kiem reeds die 3 ondergang van die tradisionele NHKA bevat. Om deel te bly van hierdie proses, is om stelselmatig in die maalkolk van vreemde leer ingesuig te word. Al die pogings wat hier genoem is, het ten doel gehad om hierdie saak reg te stel. Stelselmatig het die fokus van ons pogings verskuif van die verandering van die besluit en die teologie, na pogings om ons te distansieer teen hierdie nuwe teologiese tendense. Dit was veral na afloop van die BAKV waar dit duidelik geword het dat die aanvaarding van Beskrywingspunt 54 van die 69e AKV nie toevallig was of weens verwarring geneem is nie. Die besluit van die BAKV is met dieselfde meerderheid geneem as die meerderheid waarmee 54/69 geneem is. Die nuwe afwykende teologiese denke het die oorheersende denkpatroon in die NHKA geword. Dit het duidelik geword dat ‘n verdere beswaarskrif of ‘n protes geen positiewe resultaat sal bewerkstellig nie.


 

Die BESWAARSKRIF

Die beswaarskrif het baie duidelik aangedui dat daar op ten minste een punt ‘n vreemde leer verteenwoordig word in die besluit wat geneem is. Daar is ook duidelik aangedui dat daar ‘n feitefout in die besluit self is. ‘n Feitefout, wat nadat dit aan die kaak gestel is dat dit nie korrek is nie en dan tog gehandhaaf word, verword het tot ‘n oortreding van die negende gebod. Dit word ‘n leuen. ‘n Besluit van die AKV moet op die Skrif, waarheid en feite gebaseer wees. 54/69 is gebaseer op ‘n wanvoorstelling van ‘n sogenaamde besluit van die 68ste AKV. 54/69 stel: ‘In die lig van die 68ste Algemene Kerkvergadering se besluit dat dit verkeerd was om ‘n bepaalde regeringsbeleid ‘apartheid’ goed te praat...’. Volgens bl 103 ev. van die Besluitebundel van die 68ste AKV was die besluit van die vergadering soos volg:

“Die saak word terugverwys vir verdere studie. Die volgende voorstel van drr PB Boshoff en FJ Boshoff word in ag geneem: Die Algemene Kerkvergadering verklaar dat dit verkeerd was om ‘n bepaalde regeringsbeleid (apartheid) goed te praat. Dit lê nie op die weg van die Algemene Kerkvergadering om politieke beleide goed, of af, te keur nie. Hierdie erkenning beteken nie dat die Algemene Kerkvergadering die huidige of moontlike toekomsigte beleid goedkeur nie.” Daar was dus nie so ‘n besluit geneem soos wat die dosente in 54/69 beweer het nie. Die beswaarskrif het die fout uitgewys. Die feitefout het verword tot die leuen wat gehandhaaf word en het sodoende ‘n oortreding van die negende gebod geword.

Die BAKV

Tydens die Buitengewone Algemene Kerkvergadering was die saak veronderstel om reg gestel te word. Dit was gou duidelik uit die bespreking dat die beswaardes ‘n baie sterk saak het. Geen oortuigende teologiese argumente is na vore gebring nie. Die transkripsie van die BAKV sal duidelik aantoon dat die voorsitter saam met die die voorstanders van 54/69 ‘n sekere klimaat geskep het vir die besluite wat geneem is. Die regte stemming is geskep vir die besluite ter ondersteuning van 54/69. Die 4 bespreking het telkens terug gegaan na ‘n bespreking oor apartheid, sonder dat die voorsitter sprekers tot orde geroep het. Selfs persoonlike aanvalle wat teen beswaardes geloods is, is deur die voorsitter toegelaat. Bitter min van die inhoud van die Beswaarskrif het ter sprake gekom. Toe die vergadering uiteindelik oorgegaan het tot stemming, was dit gou baie duidelik dat afgevaardigdes uit lojaliteit stem.

Die BESLUITE

Daarmee saam is uit die voorsitterstoel ook elke keer die Kommissie van die AKV afgespeel teen die Komitee van Beswaardes. Die vergadering is byvoorbeeld beïnvloed uit die voorsitterstoel wat gestel het, “dat dit darem jammer sal wees indien daar ‘n vreemde leer of dwaalleer in die Kerk sou wees”. Lojale ampsdraers het waarskynlik gestem soos hulle gedink het dat dit van hulle verwag word. Net so is aan die vergadering gesuggereer dat dit jammer sal wees indien die AKV self moet erken dat hulle besluit ultra vires is. Dit sou die saak teen die AKV ernstig in die hof kon skaad. Op beide punte 4.1 en 4.2 in die agenda van BAKV sou ‘n mens kon verwag dat die vergadering die beswaarskrif gelyk sou gee. (4.1 “Is die besluit oor Beskrywingspunt 54 'n leerbeslissing soos bedoel in Ordinansie 1.2 van die Kerkorde en moet daarmee gehandel word volgens hierdie Ordinansie?” en 4.2 “Is die besluit oor Beskrywingspunt 54 'n verandering van enige van die belydenisskrifte soos beoog in Ordinansie 1.3 en moet daarmee gehandel word volgens hierdie ordinansie?”) Die beswaarskrif is egter met meerderhede van 66% en 69% van die hand gewys. Op 5.1 is die saak van ultra vires duidelik en tog besluit 67% van die vergadering teen die beswaarskrif. Dit laat allerlei vrae ontstaan of al die lede van die vergadering werklik bewus was van waarom dit gegaan het.

Die INLIGTINGSTUK

Die Inligtingstuk het reeds op uitgebreide wyse die sake wat die kern van ons oortuigings verwoord, aan almal bekend gestel. Die Inligtingstuk wou op ‘n positiewe manier dien as wekroep vir die NHKA. Die reaksie van die Moderamen was om by wyse van ‘n skrywe die verspreiding van die inligting te probeer stuit.

Teen hierdie agtergrond kan dit nie anders nie as dat gestel word: “Hierby staan ons”. Alle moontlikhede is ondersoek en ontgin, net om telkens gestuit te word deur die maghebbers in die Kerk se geledere. Ons protesteer in dieselfde gees as die “Protestation” wat op die Ryksdag te Spiers in Duitsland in 1529 ingedien is, ons protesteer ook teen die meerderheidspolitiek in kerklike sake. Dit laat ons met geen ander keuse nie, ons moet stel:

 

Sien ook die Staat van Belydenis