Dagstukkie

Dagstukkie

Dagstukkie

OORDENKING

Vrydag 4 September
Vergifnis

Efesiërs 1:7-8

Ons dink so baie na oor geloof. Die belangrikste faset van geloof is dat ons daardeur vergifnis van sonde ontvang. Vergewing van sonde, is die hart van die Evangelie. Sonder vergewing van sonde is die Evangelie geen blye boodskap nie. Sonder vergewing is die posisie van die sondaarmens teenoor God nog dieselfde. Jesus het egter gekom om mense te red en Hy doen dit deur hulle sonde te vergewe kragtens die genade van God.
Dit was en is steeds Sy grootste vreugde. Hy wil mense hulle sondes vergewe en hulle sodoende red. God het geen behae in die dood van ’n sondaar nie. Daarom het Jesus saam met sondaars en tollenaars geëet. Hy wou hulle bring in die ligkring van God se genade sodat hulle in Hom kan glo en van hulle sondes vergewe kan word. Wie volhard in ongeloof en sonde is rampsalig. Daarom was dit Jesus se hoogste prioriteit om te vergewe. As siekes, blindes, verlamdes en gebrokenes na Hom toe gekom het, het Hy hulle nie net in hulle aardse smarte gehelp nie, maar ook verlos van hulle grootste nood. Telkens hoor ons Hom sê: “Jou sonde is vergewe, jou geloof het jou gered.”
Wie nog nie die wonder van vergifnis besef nie, verstaan nie die liefde van God nie, verstaan nie wat werklik die belangrikste in jou lewe is nie. Dan stry jy oor klein dingetjies soos Simon die Fariseër oor ’n albaste fles olie of soos die skrifgeleerdes oor mense wat eet met ongewaste hande. Wie die wonder van vergifnis besef, sal sê: Laat my alles verloor, maar laat my die vergewing van sondes behou. Dan sal ons in benoudheid, siekte, lyding, selfs vervolging ons verbly dat die groot saak van die geloof naamlik die vergewing van sondes nie van ons weggeneem kan word nie.
Dr. Malan Storm (Emeritus)

𝔊𝔢𝔩𝔬𝔬𝔣𝔰𝔟𝔬𝔫𝔡 𝔳𝔞𝔫 ℌ𝔢𝔯𝔳𝔬𝔯𝔪𝔡𝔢 𝔊𝔢𝔪𝔢𝔢𝔫𝔱𝔢𝔰 Lewensbrood 2026 - (CC BY-NC-ND)