Ds Gawie Wolmarans: Wat sê die Bybel werklik oor homoseksualiteit?


Ds Gawie Wolmarans: Wat sê die Bybel werklik oor homoseksualiteit?

Gawie Wolmarans


Oorsake van Homoseksualiteit

Daar is ‘n legio moontlike redes waarom mense homoseksueel gebore kan word of later homoseksueel kan word. Die invloed van “die pil” (geboorte beperking), ander medikasie, hormonale manipulasie van voedsel, die emosionele blootstelling van die ongebore baba aan die moeder se gemoedstoestand, die moontlike bestaan van ‘n “homoseksuele gene”, is alles sake wat reeds wêreldwyd intens nagevors word as moontlike redes waarom homoseksuele persone “só gebore word”.

Omdat dit nie onder alle omstandighede daartoe aanleiding gee nie, word bespiegel dat ongesonde verhoudinge tussen ‘n ouer en kind en ongebalanseerde verhoudinge tussen twee ouers, kan bydra tot geslags-onsekerheid. Wanneer ‘n moeder byvoorbeeld haar man op ‘n daaglikse basis as ‘n nikswerd voor die kinders afmaak, kan ‘n dogter grootword met die idee dat net vrouens emosionele sekuriteit kan bied, en kan ‘n seun lewenslank op soek kan wees na ‘n vaderfiguur wat vir hom geborgenheid kan bied. Ook as die vader letterlik of figuurlik afwesig is.

Die blootstelling van kinders onder die ouderdom van 14 jaar aan seksuele- of homoseksuele aktiwiteite, -beeldmateriaal, -verleiding, -molestering of -verkragting, mag só ‘n blywende indruk op hulle laat, dat dit onvermydelik hulle seksuele gedrag as adolesente en volwassenes kan beïnvloed. Meisies en vrouens wat deur perverse mans seksueel verneder is, of fisies en emosioneel mishandel is, mag intuïtief ‘n veilige ruimte by iemand van dieselfde geslag gaan soek. Heteroseksuele persone wat seksueel verslaaf is, mag nuwe avontuur gaan soek in homoseksuele aktiwiteite. Persone wat onder die invloed van dwelms is, sal wanneer hulle ‘n seksuele behoefte ontwikkel, wie ookal gebruik wat naby is, ongeag of dit iemand van dieselfde geslag is of nie. Daar is ook ‘n opgetekende geval in Frankryk waar die gebruik van ‘n bepaalde medikasie, tydelike homoseksuele gedrag by ‘n volwasse, getroude heteroseksuele man tot gevolg gehad het.

Die indruk dat die oorwig van homoseksueel-georiënteerde persone nie gekies het om só te wees nie, behoort heteroseksuele mense te laat besef dat daar ‘n baie groot emosionele onsekerheid, spanning en stryd by homoseksuele persone leef. Ook hulle het ‘n groot behoefte aan God se liefde en aanvaarding, mense se (gewone) liefde en aanvaarding en ‘n onderliggende vrees om verwerp te word.

‘n Christelike standpunt oor Homoseksualiteit?

Alhoewel alle Christene veronderstel is om die Bybel as finale maatstaf te gebruik, is Protestante (“susterskerke”) per belydenis onlosmaaklik daartoe verbind. Die metode waarvolgens ‘n Bybelse standpunt voorberei word, is om die Nuwe Testamentiese getuienis as die finale waarheid te aanvaar, maar ook uitsprake in die Ou Testament in ag te neem in sovêrre dit nie deur die Nuwe Testament opgehef is nie.

Die Ou Testament

(Vir woorde se betekenisvelde is gebruik gemaak van die woordeboeke van Koehler & Baumgartner, Gesenius en Strongs.)

Genesis 1:27 – Die Skeppings-orde: “God het die mense geskep as Sy verteenwoordiger, as beeld van God het Hy die mens geskep, man en vrou het Hy hulle geskep.” Daarby ook die opdrag om vrugbaar te wees, wat slegs moontlik is tussen persone van die teenoorgestelde geslag.

Ons lees in Genesis 2:24 dat God, ná die skepping van die man en die vrou, opdrag gee dat “die man en die vrou aan mekaar sal vasklou, en liggaamlik een sal word” (אֶחָֽד לְבָשָׂ֥ר וְהָי֖וּ בְּאִשְׁתּ֔וֹ וְדָבַ֣ק).

Een van die redes waarom die Here God se woede teen Sodom só opgebou het dat Hy die stad en sy inwoners vernietig het, was die algemeen-aanvaarde praktyk (Genesis 19:4) dat mans “oud en jonk” vrylik seksueel met mekaar verkeer het. Só dring hulle agressief en dreigend by Lot daarop aan (vs 5) om die twee engele (mans) beskikbaar te stel sodat hulle hulle “intiem kan leer ken” (וְנֵדְעָ֖ה), waarna die engele die mans met blindheid geslaan het, en die stad met vuur en swael verwoes is.

In Levitikus 18:1,22 sê die Here God “’n man mag nie by ‘n man lê asof hy by ‘n vrou lê nie” (אִשָּׁ֑ה מִשְׁכְּבֵ֣י תִשְׁכַּ֖ב לֹ֥א זָכָ֔ר וְאֶ֨ת־) en dat Hy (die Here God) dit “weersinwekkend, walglik, veragtelik, afskuwelik, haatlik” (תּוֹעֵבָ֖ה) vind.

In Levitikus 20:1,13 sê die Here God dat, “indien ‘n man by ‘n ander man lê asof hy by ‘n vrou lê”, beide van hulle doodgemaak moet word. (Die argument is nie of hulle doodgemaak moet word nie, maar of homoseksuele dade deur God goed- of afgekeur word.)

Ons lees in Deuteronomium 23:17, 1 Konings 14:24, 15:12, 22:41, en Hosea 4:10-19 dat manlike (homoseksuele) prostitusie (קָדֵשׁ) verbied, uitgeroei en veroordeel word .

Die Sewende Gebod (Eksodus 20:14; Deuteronomium 5:18) bepaal dat ‘n mens nie inbreuk mag maak op die seksuele voorskrifte wat God voorgeskryf het nie: Één man, één vrou, lewenslank. Om homoseksualiteit te beoefen, is ‘n oortreding van hierdie gebod.

Die Nuwe Testament

(Vir woorde se betekenisvelde is gebruik gemaak van die woordeboeke van Liddell & Scott, Walter Bauer en Strongs.)

Jesus bevestig in Matteus 19:4,5 en Markus 10:6-8 dat, omdat die Here God met die skepping man en vrou gemaak het (sien Genesis 1:27 en 2:24 hierbo), dit onverkort die geldende norm bly: ‘n Man is vir ‘n vrou gemaak, en ‘n vrou is vir ‘n man gemaak. Hierdie “Skeppings-ordening” vorm deurgaans die basis waarop die Bybel seksuele verhoudinge beoordeel.

Ons lees in Romeine 1:26-27 van vroue en mans wat, teenstrydig met die fisiologiese aard en bedoeling van hulle geslagsorgane (φυσικὴν χρῆσιν), ‘n onblusbare seksuele begeerte om seksueel met iemand van dieselfde geslag intiem te verkeer (ἐξεκαύθησαν ἐν τῇ ὀρέξει αὐτῶν εἰς ἀλλήλους), ontwikkel het. Dit word beskryf as vals, bedrieglik, ‘n misleiding en lynreg in botsing met hoe die Here God dit bedoel het (πλάνης). Hulle onwelvoeglike, aanstootlike, onbehoorlike, ongepaste, onbetaamlike optrede (ἀσχημοσύνην) bring vir hulle die verdiende straf en vergelding (ἀντιμισθίαν) vir hulle dade.

Die res van die Nuwe Testamentiese getuienis behels 3 woorde wat op 18 plekke voorkom:

Πόρνος (pórnos) het die grondbetekenis van “om te verkoop” en word in Nuwe Testamentiese Grieks gebruik vir ‘n 1.Skandknaap “catamite” (seun wat deur ‘n man aangehou is vir seksuele gebruik), manlike prostituut, sodomiet, 2.’n man wat egbreuk pleeg, 3.’n man wat seuns seksueel molesteer. Πορνος kom voor in 1 Korintiërs 5:9,10,11 en 6:9; Efesiërs 5:5; 1 Timoteus 1:10; Hebreërs 12:16 en 13:4; Openbaring 21:8 en 22:15.

In 1 Korintiërs 5:9-11 verbied Paulus die gelowiges om vriendskapsbande te hê met mense wat hierdie vorme van onsedelikheid bedryf. In hoofstuk 6:9, Efesiërs 5:5, Hebreërs 13:4, Openbaring 21:8 en 22:15 word gewaarsku dat mense wat dit bedryf, nie deel sal kry aan die Koningkryk van God nie. In 1 Timoteus 1:10 sê Paulus dat dit teen die wet van God is. Hebreërs 12:16 moedig gelowiges aan om mede-gelowiges te help dat hulle dit nie doen nie.

Variante in die Bybel, πορνευω , πορνεια en πορνη verwys na seks voor/buite die huwelik, seks met ‘n voorheen geskeide persoon, seks met bloedfamilie, prostitusie, seks met ‘n dier, seksverslawing, losbandigheid en ook as metafoor vir die aanbidding van afgode. Dit sluit ook homoseks in.

Die meervoud πορνοι kom voor in Openbaring 21:8 en 22:15 en dien as versamelnaam wat nie net praktiserende homoseksuele persone insluit nie, maar ook al die onaanvaarbare seksuele praktyke wat hierbo genoem is. Al diesulkes word gewaarsku dat hulle lot met die Oordeelsdag die poel sal wees wat met vuur en swael brand, en dat hulle buite die nuwe stad Jerusalem sal wees.

Μαλακός (malakós) het die grondbetekenis van “verwyfd, verfynd”. Die gebruik van die woord verwys na ‘n manlike persoon wat tydens ‘n homoseksuele daad die ontvanger is/vroulike rol vervul. Dit verwys ook na duur klere, of die verfynde kleredrag wat mans aantrek om ander mans seksueel mee te prikkel, na manlike seksslawe en manlike (homoseksuele) prostitute. Die woord kom voor in Matteus 11:8 (2x), Lukas 7:25 en 1 Korintiërs 6:9. In Matteus 11:8 sê Jesus dat Johannes die Doper nie sulke “deftige klere” aangetrek het nie. In 1 Korintiërs 6:9 sê Paulus dat mans wat die vroulike rol in ‘n homoseksuele verhouding vertolk, nie gered sal word nie. In vers 11 impliseer hy dat daar gemeentelede is wat vroeër só was, maar hulle intussen bekeer het.

Άρσενοκοίτης (árseno-koítes) is ‘n manlike vorm met die grond betekenis van “man” plus “bed”. Die gebruik van die woord verwys na ‘n man wat ‘n bed deel met ‘n ander man asof dié ‘n vrou is, ‘n sodomiet. D.w.s. die man wat die manlike rol vervul in ‘n homoseksuele daad. Die woord kom voor in 1 Korintiërs 6:9 en 1 Timoteus 1:10. In 1 Korintiërs 6:9 sê Paulus dat mans wat die manlike rol in ‘n homoseksuele verhouding vertolk, nie gered sal word nie. In vers 11 impliseer hy dat van die gemeentelede vroeër daardie rol vervul het, maar hulle intussen bekeer het. In 1 Timoteus 1:10 beskryf hy mense wat homoseksualiteit beoefen as mense wat hulle nie aan God se wet en orde steur nie.

AL die bogenoemde gevalle word afgewys as gedrag wat vir God onaanvaarbaar is en met die finale oordeel gestraf gaan word indien mense hulle nie daarvan bekeer nie.

Die Suid-Afrikaanse debat

Die pogings om homoseksuele verhoudinge aanvaarbaar te probeer maak, en die Bybelse getuienis oor homoseksualiteit kragteloos te maak, steun op die volgende argumente:

1. “Die Bybeltekste wat op homoseksuele verhoudinge van toepassing gemaak word, is verkeerd vertaal en word verkeerd geïnterpreteer. Dit verwys slegs na homoseksuele verkragting en manlike prostitusie.”

Hier is ‘n ope geleentheid om die vertaling en interpretasie van die tekste, soos dit hierbo gedoen is, te betwis. Daar sal egter ook aangedui moet word waar in die geskiedenis van die Christelike Kerk die Bybeltekste anders geïnterpreteer is, en waar praktiserende homoseksualiteit binne die Kerk openlik aanvaar is. Ten spyte van die Bybeltekste hierbo behandel, is daar leiersfigure in godsdienstige organisasies wat waag om te verklaar dat daar “nêrens in die Bybel tekste is wat homoseksuele verhoudinge verbied nie”. Daar is selfs sommiges wat, lasterlik, beweer dat Dawid en Jonatan, Jesus en Johannes “meer as net goeie vriende” was.

2. “Persone wat homoseksuele verhoudinge veroordeel, tree liefdeloos, ‘judgemental’ en homofobies op, en is besig met gruwelike diskriminasie. Julle beroof mense van hulle menswaardigheid.” “Julle is eintlik mense wat julle eie onderbewussyns-homoseksualiteit onderdruk.” “Terwyl die eko-sisteem rondom ons besig is om in duie te stort, kibbel die kerk of gays welkom in die kerk is of nie.” “God is aan die kant van gemarginaliseerdes soos die LGBT’s.” “As Jesus nou hier was, sou Hy gesê het dat julle verkeerd is om homoseksuele verhoudinge te verbied.”

Die krag van hierdie aanvalle op die integriteit van persone wat onbeskaamd die Bybelse getuienis verkondig, lê in die vermoë wat dit het om mense emosioneel op te sweep teen diegene wat as ‘n klomp skynheilige boelies voorgehou word.

Die Humanistiese terminologie wat gebruik word, wys egter uit dat daar wegbeweeg word van die Bybel en hoe Humanisme as Christelike geloof aangebied word. Humanisme plaas die mense en sy aardse geluk voorop, en val alles aan wat dit bedreig. Met die menslike behoeftes as vertrekpunt, projekteer hulle ‘n godheid wat strydig is met hoe God Homself in die Bybel openbaar. Vir Humaniste maak dit nie saak of daar ‘n Ewige Lewe is of nie. Wat vir hulle belangrik is, is die aardse lewe en die geluk wat jy daaruit kan kry. Eerder as om te erken dat hulle afskeid geneem het van die Christelike geloof, maak hulle goedgelowige mense van die Waarheid afvallig, terwyl hulle voorgee dat hulle namens God praat. Dieselfde geld vir (Afrikaans-sprekende) mense wat betower is deur ‘n bepaalde filosofie of ideologie soos feminisme, liberalisme, mistisisme, humanisme: Hulle het die volste reg daartoe! Maar hulle het nié die reg om voor te gee dat hulle Bybel-gegronde Christene is nie. Feit is dat hierdie mense die Bybelse waarhede ondermyn en die verlossing wat Jesus Christus gebring het, probeer vernietig.

3. “Baie gays is diep Christene en word van ‘n goeie verhouding met God ontneem.”

Indien daar teen homoseksueel-georiënteerde persone gediskrimineer word wat selibaat lewe, is hierdie beskuldiging moontlik gegrond. Maar indien daar na persone verwys word wat in dieselfde-geslag verhoudinge leef, is dit nodig om Bybelse duidelikheid te kry oor wat ‘n “Christen” werklik is.

‘n Christen glo dat die Vader, Seun en Heilige Gees die enigste ware God is. Dat God Hom genoegsaam in die Bybel openbaar, en dat die Bybel as sodanig die hoogste en finale gesag is. Gemeet aan die inhoud van die Bybel, is ‘n Christen bewus van sy eie persoonlike swakhede, het berou daaroor en pleit by God om deur Jesus Christus se offer vergewe te word. Dan begeer só iemand om met hart en siel, uit diepe dankbaarheid, in alles aan die Here gehoorsaam te wees ...om maar net ‘n paar sake uit te lig.

Die Christelike godsdiens bestaan uit geloof en dade: Geloof raak ons opvattinge oor Wie God is, en dade verwys na hoe God van ons verwag om te lewe. As lieg, steel of rondslapery jou swakhede is, erken jy dit en veg met jou hele wese daarteen. Wanneer ‘n mens se geloof, lewe en strewe nie ooreenstem met die Bybel nie, is jy nie ‘n Christen nie. Presies dieselfde geld vir die persoon wie se swakheid homoseksuele begeertes is. As jy as Christen gereken wil word, kan jy nie homoseksuele gedrag as ‘n ononderhandelbare reg opeïs nie.

4. “Die kerke se onverbiddelike houding teenoor homoseksualiteit, is die oorsaak van talle selfmoorde.” “Indien die kerke nie praktiserende homoseksueles gaan akkommodeer nie, gaan die kerk hulle verloor.” “Indien die kerk volhard met sy rigiede standpunt oor homoseksualiteit, gaan die kerk homself irrelevant maak in die wêreld.” “As Christene só liefdeloos en veroordelend optree, stel ek nie belang om ‘n Christen te wees nie.” “Indien die kerke nie gehoor gee aan oproepe dat homoseksuele verhoudinge volledig aanvaar moet word nie, sal ons ons tot die Grondwetlike hof wend.”

Hier is vyf tipiese maniere waarmee die kerk gedreig en afgepers word om afstand te doen van sy Bybelgegronde oortuiginge. As dit selfdood is wat voorkom moet word, waarom nie maar eksamens, finansiële skuld, en verbrekings van verhoudinge as liefdeloos veroordeel nie? Dit is ook nie die kerk se taak om getalle op te bou of te behou nie, maar om ‘n Godvresende geloofsgemeenskap te wees. Selfs toe die kerk se getalle beduidend was, kon die kerk nie ‘n duik maak in die wêreld nie. Is ‘n Skrifgetroue kerk nie maar nog altyd irrelevant in ‘n goddelose wêreld nie? Selfs nou, in wat deur baie as ‘n krisis-tyd beskou word, dwaal kerke al hoe meer om net so sondig soos die wêreld te word. Is ‘n Christelike kerk verleë oor iemand wat van buite af wil voorskryf wat sy waardes en optrede behoort te wees, eerder as om Bybelse norme en waardes te wil aanvaar? Doen enige iemand die Here ‘n guns om by Sy kerk aan te sluit? Wat die Grondwet betref: Dit is ‘n heidense grondwet! Miskien die hoogste politieke gesag, maar wie sal sy geloof vir aardse voordeel verloën? Mense pers eintlik vir God af: “As jy wil hê dat ek in jou moet glo, moet jy praktiserende homoseksualiteit goedkeur!”

5. “Wie is julle om te oordeel? As jy sonder sonde is, tel die eerste klip op!”

Johannes 8:7 word dikwels misbruik om mense te intimideer om stil te bly oor jou eie, jou familie of vriende se sondige optrede. Het Jesus die sonde van die vrou goedgekeur, of het hy vir haar gesê om op te hou met haar verkeerde leefwyse (vs 11) en só vir haar eintlik ‘n tweede kans gegee om gered te word? ‘n Verdere feit is dat daar ‘n Oordeelsdag gaan kom wat die “Hiernoumaals” gaan beeïndig en die “Hiernamaals” in vervulling sal laat gaan. Dit is ook ‘n feit dat baie voorstaanders van vrye seksuele oriëntasie nie aan ‘n oordeelsdag glo nie, en só hulle buite die Christelike geloof stel, terwyl dit steeds Christene is wat hulle lewensonderhoud finansier, en die geloofsakker die plek is waar hulle hulle eie private koninkrykies oprig.

6. “Homoseksuele persone is só gebore. God het hulle so gemaak. Hulle het daarom ‘n reg om hulle homoseksualiteit uit te leef.”

Bo-en-behalwe dat elke Christen glo dat hulle onvolmaak gebore is en geneig is om eerder hulleself te handhaaf as om aan God gehoorsaam te wees, impliseer die navorsing dat die moontlike oorsake van ‘n homoseksuele-oriëntasie verband hou met die gevolge van menslike optrede. Boonop bied hierdie aanspraak vir rondslapers, diewe, moordenaars, verkragters, pedofiele, vroueslaners, korrupte politici, ens ‘n “God-gewilde” rede waarom hulle toegelaat moet word om te doen wat hulle doen. Van wanneer af is die Bybelse opdrag tot “selfbeheersing” nie van toepassing op die sonde van homoseks nie?

7. “Die grootste gebod is die liefde. Homoseksuele persone moet toegelaat word om dieselfde-geslag liefde uit te kan leef, solank hulle net liefdevol en getrou in hulle verhouding is.”

‘n Mens kan nie betekenisse aan Bybelgedeeltes gee buite die Bybel om nie. Telkens wanneer hierdie stelling in die Bybel gemaak word, verwys dit óf opsommend na die eerste vier Gebooie, of word gehoorsaamheid aan die Tien Gebooie daardeur geïmpliseer. Dit is nie Bybels, Christelik of Protestants om Bybelse uitsprake oor liefde, genade, ens te interpreteer asof dit ‘n streep kan trek deur die duidelike Bybelse uitsprake oor praktiserende homoseksualiteit nie. Selfs wanneer iemand die Bybelse getuienis hieroor wil relativeer en tydsgebonde verklaar, bevind hulle hulself reeds buite die Christelike geloofsgemeenskap.

8. “‘n Internasionaal-gerespekteerde en bekroonde teoloog, professor doktor So-en-so, het gesê...”

Sogenaamde teoloë wat weet dat hulle hulle nie vir hulle standpunte op die Bybel kan beroep nie, skep graag die indruk dat die persone wat hulle aanhaal om hulle standpunt te ondersteun, internasionaal-gerespekteeerde (gelowige) wetenskaplikes is. ‘n Christen hoef egter nie daarvoor te val nie, want oor die saak van praktiserende homoseksualiteit, gee die Bybel baie duidelike leiding.

9. “Soos die uitsprake in die Bybel dat die aarde plat is en op vier pilare staan, is daar baie uitsprake in die Bybel waarvan die waarheid tydsgebonde is. Die uitsprake oor homoseksualiteit is só ‘n uitspraak.”

Almal weet dat die uitspraak oor die plat aarde ‘n geografiese uitspraak was wat in lyn was met die wetenskaplike kennis van daardie tyd. Die tegniek wat hier gebruik word, is om een foutiewe stelling te gebruik om ‘n ander waarheid verdag te maak, sonder dat dit met mekaar verband hou. Hoe oortuigend kan dit wees?

10. “Indien kerke nie optree teen lidmate wat openlik in sonde lewe nie, het hulle géén reg om op te tree teen lidmate wat in ‘n homoseksuele verhouding is nie.”

Die korrekte benadering sou wees: “Net soos julle standpunt inneem teen persone wat in ‘n homoseksuele verhouding is, behoort julle op te tree teen mense wat openlik in sonde lewe.” God verwag dit van die ware Kerk om mense te waarsku teen ‘n leefwyse wat hulle in die Hel gaan laat beland.

11. “Oor die saak van homoseksualiteit kan daar ten minste een konklusie gemaak kan word, naamlik dat daar twee uiteenlopende denkstrome is wat direk teenoor mekaar staan wat albei vanuit die Bybel geregverdig word.”

Hierdie stelling is oneerlik en is bedoel om mense te mislei. Dit verleen aan die “ander” standpunt – in hierdie geval dat die Bybel inklusiwiteit sou voorstaan – ‘n Bybelse geloofwaardigheid. “Inklusiwiteit” word nie deur die Bybel voorgestaan nie, omdat persone wat praktiserende homoseksuele is, buite die ryk van God geplaas word terwyl hulle só leef. Indien hierdie drog-argument as ‘n sirkel voltooi word, sou dit beteken dat praktiserende homoseksualiteit uiteindelik Bybels aanvaarbaar sou wees. Soos ander argumente, is dit bedoel om die Bybel uiteindelik te laat buikspreek. (Hierdie argument vorm die basis van ‘n tesis waarvoor ‘n doktorsgraad, nogal in die Teologie, toegeken is!)

Oorsig:
Hierdie misleidende en oppervlakkige wyse van debatvoering bevorder nie gesonde teologie nie, maar baan die weg vir kerke om toenemend hulle Bybelse waardes prys te gee en soos die God-vervreemde wêreld te word. ‘n Tipiese afgodsdiens! Van buite af kry ‘n mens die indruk dat die NG Kerk en die Nederduitsch Hervormde Kerk al stewig op pad daarheen is.

Slotsom

1. Nêrens in die Bybel word praktiserende homoseksualiteit as aanvaarbaar aangebied nie.

2. Seksuele aangetrokkenheid teenoor ‘n persoon van dieselfde geslag is dikwels nie ‘n keuse nie. Dit is inderdaad deel van daardie persoon se natuur.

3. Die Bybel veroordeel nie mense wat homoseksuele gevoelens beleef nie, maar wél persone wat homoseksualiteit beoefen.

4. Die keuse wat ‘n persoon met homoseksuele gevoelens wél het, is tussen om dit te beoefen of om lewenslank selfbeheersing toe te pas.

5. Homoseksuele persone is ook baie hardwerkende, talentvolle, eerlike persone – goeie mense – wat in staat is om ‘n sinvolle en suksesvolle lewe te lei, en ‘n waardevolle bydrae tot die samelewing te kan maak.

6. Homoseksuele gevoelens hoef egter nie ‘n persoon se gedagtes of lewe te oorheers nie. Die wye spektrum van voluit leef, bied genoeg verskeidenheid om die lewe sinvol en aangenaam - buite-om homoseksualiteit - te kan maak.

7. Praktiserende homoseksualiteit word nie in die Bybel uitgelig as die enigste sonde wat mense uit God se Koninkryk gaan hou nie. Dit word op gelyke vlak veroordeel saam met onder andere mense wat dwaalleer verkondig en beskerm, wie verkondig dat Jesus nie die Seun van God is nie, leuenagtig is, bedrog pleeg, gereeld dronk word, seks voor/buite die huwelik beoefen, seks met ‘n voorheen geskeide persoon het, moordenaars, ens.

8. Die enigste Bybelse manier om onder die oordeel van God uit te kom, is om homoseksuele dade as onaanvaarbaar vir God te erken, op te hou daarmee, en by God om vergifnis te pleit. Dit geld vir elke ander sonde wat ‘n mens pleeg.

9. Persone wat verkondig dat praktiserende homoseksualiteit vir God Drieënig aanvaarbaar is, is inderdaad dwaalleraars, wolwe in skaapklere en valse profete en moet hulle as sodanig voorberei op die ewige straf wat die Bybel vir hulle voorhou... ook vir die emosionele lyding wat hulle by Godvertrouende homoseksueel-georiënteerde persone veroorsaak deur hulle te mislei en onder die indruk te bring dat homoseksuele verhoudinge en -intimiteit vir God aanvaarbaar is.

10. Dieselfde geld onverkort vir kerke en ampsdraers wat dieselfde geslag verhoudinge op enige wyse goedkeur: By wyse van amptelike besluite, voltrekking van homoseksuele verbintenisse en persone wat in ‘n homoseksuele verhouding is, as lidmate en ampsdraers toe te laat. Hulle vorm deel van die valse kerk, en deur standpunt in te neem teen die Bybelse getuienis, plaas hulle hulleself buite die ware kerk en binne in die geselskap van antiChriste.

11. Ter wille van dit wat in die Ewige Lewe op die spel is, moet ons persone wat homoseksueel-georiënteerd is, aanmoedig om selibaat (in onthouding) te leef, hulle al ons liefde en ondersteuning bied, en hulle in ons gebede aan ons Hemelse Vader opdra vir krag en volharding.

12. Daar is niks mee verkeerd om ‘n baie hegte vriendskap met iemand van dieselfde geslag te hê nie.

Die Afrikaanse koerante en radiostasies wat Christelike, Bybelgebaseerde waardes aanval, en mense wat reeds hulle rug op die Christelike geloof gedraai het, gebruik in hulle godsdiens-rubrieke, moet verstaan dat hulle aanspreeklikheid moet aanvaar vir die talle homoseksuele persone wat hulle onder die indruk gebring het dat hulle vrye teuels aan hulle drange kan gee... vir die geloofs-, emosionele- en lewenskrisis wat hulle by daardie mense veroorsaak wanneer hulle moes agtergekom dat dit Bybels onaanvaarbaar is. Dieselfde geld vir persone wat leiersposisies in kerke beklee en hieroor ‘n ander boodskap verkondig as die Bybel. Sulke mense is arrogant en hulle teenwoordigheid in enige kerk maak dat sulke kerke se vermoë om gelowig met die Bybel om te gaan, bevraagteken word.

Ds Gawie Wolmarans.