Prof Pont gee 'n terugblik op kerklike gebeure


Prof Pont gee 'n terugblik op kerklike gebeure

Adriaan_Pont


Tydens u tydperk as hoogleraar in teologie (kerkgeskiedenis en kerkreg) aan UP was daar kataklismiese gebeure op teologiese en kerklike front. Wat sou u beskou as van die betekenisvolste uitdagings waarteen u te staan gekom het in daardie tye?

Oor die Botsings op die Teologiese en Kerklike Front : 1957 – 1992: Ek was in daardie tyd direk daarby betrokke. As materiaal om die tydperk te verstaan, kan allereers verwys word na die proefskrif van dr JJ Steenkamp van 1987 wat eintlik die enigste werk is waar die agtergrond vir die destydse kerklike woelinge ook beskrywe word. Daar kan op gelet word dat die WRK (Wêreldraad van Kerke) en die WARC(World Alliance of Reformed Churches) finansieel en andersins die opstandige elemente in Suid-Afrika gefinansier en geadviseer het om die kerke hier onder druk te plaas van wee die feit dat die kerke in baie opsigte die geestelike inspirasie en steunpilaar vir die volk was. Dit is my oortuiging dat byvoorbeeld die Christelike Instituut getaak was om die kerk te infiltreer en van binne uit te hol en op die agtervoet te dwing.

My “aandeel” in hierdie stryd word geskets deur ʼn kort biografie getitel: Prof. dr. A D Pont : ’n Waardering van sy lewe en werk wat dr Daan van Wyk in 1992 in die Hervormde Teologiese Studies, 48(3-4) bl. 515-574 van September 1992, gepubliseer het.


Daar word gevra wat die grootste uitdaging van daardie tyd was. Die antwoord op die vraag hang saam met twee sake: Die eerste word uitgespel in Ordinansie 1 van die Kerkorde van die NHK wat oor die Belydenis handel. Dié Ordinansie kom net so voor in al die voorafgaande Kerkordes, naamlik dat kandidate vir die amp van Dienaar van die Woord, vóór beroepbaarstelling en bevestiging in die amp, die Proponentsformule moet onderteken. Die onderneming wat hier ter sake is, lui so: “Ek beloof om in hierdie leer (soos uitgespel deur die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus en die Dordtse Leerreëls) te volhard en my in my verkondiging (van die Woord van God) hierdeur te laat lei.” By die bevestiging as predikant moet die kandidaat positief antwoord op die vraag: “Glo u dat die Ou en Nuwe Testament die enigste Woord van God en die volkome leer van die redding is en verwerp u alle lering wat met dit in stryd is ?”

Dan is daar nog ’n verdere taak wat die predikant by sy bevestiging opgelê word. Die Formulier vir die Bevestiging van Predikante stel: “ten slotte is dit die werk van die dienaars van die Woord om in die gemeente van God die goeie dissipline te handhaaf en die gemeente ordelik te regeer soos die Here dit voorgeskryf het ...” want, so sê die Formulier: “Hulle (die predikante) is opsieners wat opsig moet hou oor die deel van die huishouding van God wat aan hulle toevertrou is...”

Wat gebeur het in die geval van prof. A S Geyser was dat hy ’n ander siening en uitleg van die Skrif verkondig het met die verbygaan van die ter saaklike Orde-reël om nie ’n probleem ten opsigte van die leer van die kerk in die openbaar na vore te bring voordat dit nie eers aan die bevoegde kerklike vergaderings voorgelê is en deur hulle beoordeel is nie.

Daarom het ek, kragtens die ondernemings wat ek gegee het by my toelating en bevestiging as predikant, Geyser tereggewys en weerspreek. Maar hy het my opmerkings verwerp omdat ek wat sy junior in jare was, het glo nie die bevoegdheid of kennis gehad het om van hom te verskil nie. Omdat hy dieselfde houding teenoor sy studente gehandhaaf het, het drie van sy studente uit eie beweging, gevra dat die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering moet oordeel of Geyser se opvattings strook met die leer en geloof van die kerk ...

Die res is geskiedenis.

As die vraag gestel word: Wat was die grootste uitdaging van daardie tyd?, dan was dit om, ondanks enorme druk en vyandigheid, vas te staan by die ondernemings wat gegee is, om die voorreg te mag hê om ’n dienaar van God se Woord in die geloofsgemeenskap van die kerk te mag wees.