Prof Pont oor die belangrikheid van kerkgeskiedenis


Prof Pont oor die belangrikheid van kerkgeskiedenis

Adriaan_Pont


Waarom sou u sê behoort elke Christen kerkgeskiedenis te bestudeer?

Die storie van die verloop van die tyd op hierdie aarde is die geskiedenis van die plek en die tyd wat God geskep het en waar Hy die mens geplaas het. En die geskiedenis begin as’t ware daar waar God die mens aanspreek en waar die mens eiesinnig sy eie gang wil gaan en dan wegvlug van God. Van die begin af maak God Homself aan die mens bekend as ’n lewende, handelende God. Die enigste manier waarop die mens dan God, na die sondeval kan leer ken, is deur God se self-bekendmaking, Sy self-openbaring aan die mens as ’n lewende handelende God. En word dit egter gou duidelik: God kan en wil neerdaal na hierdie wêreld, maar die mens kan nie uit homself “opstyg” na die hemel nie ... hy is aardsgebonde.

As ons na ’n beginpunt van die geskiedenis soek, lê dit in die skepping en weer daar waar God, deur sy Verbond met die mens ’n skakeling en ’n verhouding met die mens skep. Die Bybel bekyk die geskiedenis – om dit so te stel – vanuit hierdie middelpunt: God se self-openbaring en die instel van die Verbond = die vaste verhouding met die mens.

So gesien is die geskiedenis nie ’n koerslose voortgang nie, maar ’n voortgaan van daardie eerste begin na ’n vasstaande voleinding. Die profete van Israel verkondig dat al die voorspoed en al die teenspoed wat die Godsvolk moes trotseer of al die oorwinnings wat die volk behaal het en al die neerlae wat hulle moes verwerk, hulle oorsprong het in Israel se vertroue op die Verbond of ontrou aan die Verbond.

So het die Kerkvader Augustinus die geskiedenis van die wêreld gesien as ’n stryd tussen die Staat van God aan die eenkant en die Staat van die Duiwel aan die ander kant. In hierdie stryd ontstaan daar “’n heilige oorblyfsel” wat aan God getrou bly en deur Hom bewaar word (Jes. 53).

In Jesus Christus is hierdie “heilige oorblyfsel” saamgevat en aan die einde van die tyd sal Christus heers oor die oorblyfsel. Saamgevat kan gesê word dat die Christelike siening van die geskiedenis is dat Christus, die Opgestane Heer, wat graf en dood oorwin het, oor alles regeer. In die belydenis dat God aan die einde van die tyd alles in almal sal wees en dat daar ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde sal wees waarin geregtigheid woon, word die finale toekoms en afsluiting van die geskiedenis gesien.

In hierdie lig moet die gelowiges die geskiedenis verstaan en beoordeel en deur daardie toekoms geïnspireer word om in die geloof vas te staan, kom wat wil. So is en so word die geskiedenis die verhaal van die mensdom se voortgang na die voleinding waar God alles in almal sal wees.