Prof Pont oor uitdagings vir die kerk


Prof Pont oor uitdagings vir die kerk

Adriaan_Pont


Wat beskou u as die grootste uitdaging wat die ware kerk vandag moet oorkom?

As mens vandag na die kerk kyk, is dit eintlik ’n jammerlike prentjie. In die NHKA se Blitspos van 14 Februarie 2019 word die volgende prentjie van die kerk geteken: “Kerkbanke loop leeg, die kerk se getalle is drasties aan die daal en die skuldlas groei. Daarby moet hy ’n moderne samelewing wat baie vinnig verander, trotseer ...” Met die onuitgesproke versugting dat alles tog eintlik maar tevergeefs is... Want van binne uitgehol deur die geleerde Bybelwetenskaplikes en van buite oorrompel deur die minagting vanweë hulle tekortkominge ... word, so lyk dit, eintlik maar aanvaar dat daar nie meer ’n toekoms is nie. Miskien is dit dalk die bedoeling van die maghebbers in die kerk...

Maar nou is die interessante dat in die ware kerk ons aandag gevra word vir ’n Boek. Maar die merkwaardige is dat in ons dae ’n boek ‘n ouderwetse ding is. Niemand lees meer boeke nie, want almal se aandag is vasgevang deur die elektroniese media waar mens net moeiteloos hoef te sit en kyk. ’n Boek is in ons dae eintlik ’n oorlas ... waardeloos en om te lees het byna ’n straf geword...

Nou staan die kerk voor ’n probleem want die hart van die kerk, as mens dit so wil stel, is ’n Boek(die Bybel). Dit is die Bybel wat van die kerk ’n kerk maak. Nie die hooggeleerde Bybelwetenskaplikes of die verwaande kerkvorste van ons dae maak die kerk nie, maar die Bybel is die middelpunt en die fondament van die kerk. En nou is die Bybel ’n moeilike Boek om te lees. Enersyds omdat dit ’n stokou Boek is ... selfs die nuutste Boeke van die Bybel is om en by 2000 jaar gelede geskryf en dan is dit nog ’n Boek van ’n ander volk en dit is geskrywe in vreemde tale, met vreemde beelde en segswyses.

Die Bybel en dan veral die Ou Testament adem die gees van die ou volk, Israel en die manier van dink en die begrippe is anders as ons manier van dink en skryf. Maar hierdie Boek is van lewensbelang en eintlik moet hierdie sterk beklemtoon word: die Bybel is nie ’n boek, maar dit is ’n lewensbelangrike Boodskap - eintlik is dit ’n brief!

En daar is ’n verskil tussen ’n boek en ’n brief.

’n Mens moet besluit om ’n boek te lees ... maar ’n brief vra nie so ’n besluit nie want ’n brief bring ’n boodskap of ’n aanbieding of ’n uitnodiging wat persoonlik van aard is en wat ’n antwoord vra. So is die Bybel ’n brief met ’n boodskap van God wat ons dwarsdeur ons lewe moet en kan toe-eien. Dalk klink dit vreemd ... maar ondanks die feit dat die Bybel ’n boek is, is die kern van die Bybel ’n boodskap wat elke mens moet hoor en kan verstaan. Om dit te bewys kan net twee aanhalings uit die Bybel gemaak word:

Die beginwoorde van die Bybel is : “In die begin het God die hemel en die aarde geskape ...”! Dit is nie ’n teorie nie, dit is ’n boodskap. Dit is ’n boodskap dat God bestaan en dat Hy die Skepperheer is ... en my ook geskep het sodat ek mag weet: Dit is nie sommer toevallig dat ek hier op aarde is nie ... God het my geskep en hier as mens ’n taak gegee.

Aan die einde van die Bybel staan daar: “Amen, ja kom, Here Jesus.” Daar staan dat ons Here Jesus Christus na hierdie wereld gekom het om ons te red. Hy het ons geroep en Hy het die sondelas van die mensdom op Sy skouers geneem en dit gedra en weggedra. En daarom staan daar dat ons nie sonder die Koninkryk van Christus kan lewe nie ... daarom: “Kom, Here Jesus”!

Dit is ’n blywende boodskap en ’n blywende hulpgeroep. Dit is die boodskap van die versoening met God ... die beklemtoning dat Hy ons Vader is. Dit is die Woord wat ons die krag gee om op pad te bly na die toekoms totdat Jesus kom! Dit is die boodskap wat ons in hierdie donker dae moet uitdra! Wat ons nie kan toelaat dat dit tot swye gebring word nie.

Die grootste uitdaging wat die kerk en die gelowiges moet oorwin is om die Boodskap van die Bybel duidelik en helder in hierdie wêreld uit te dra ... in ons huise, in ons lewenskring, in die openbare lewe ...want dit is die roeping van die kerk om die Evangelie van Jesus Christus te verkondig.