Prof Pont oor wat dit beteken om hervormd te wees


Prof Pont oor wat dit beteken om hervormd te wees

Adriaan_Pont


Om Reformatories te wees, is om tot die suiwer lering van die Bybel gehoorsaam te wees. Alle Reformatoriese doktrine is op die Bybel gefundeer. Hoekom dan wyk soveel kerke wat eens Bybelse Reformatoriese teologie onderskryf het, vandag daarvan af?

Ons leef vandag in ’n ander Suid-Afrika as die land en samelewing wat in 1994 aanvaar is. Die ommekeer is waarskynlik moontlik gemaak omdat die destydse Staatspresident gestel het : “Ek het tot die slotsom gekom dat die Afrikanervolk nooit, soos die Duitsers of die Franse, ’n eie land met ’n eie taal en ’n eie kultuur en ’n eie regering sal hê nie.” (JD van der Vyver, Die Juridiese Funksie van Staat en Kerk, bl. 158 – 196, Durban, 1972) So en daarmee, so lyk dit, is ’n ’n streep getrek deur die Afrikaner se geskiedenis en daarmee saam is ook die Christelik-bepaalde staatsinrigting en lewenswyse, soos die destyds-bestaande Grondwet dit uitgespel het, van die tafel afgevee. Die Afrikaner is toe gereduseer tot ’n minderheid in ’n bevolking wat toe ’n sosialistiese en sekulêre staat gevestig het. Soms lyk dit asof daarmee uitvoering gegee moes word aan die eeue-oue ideaal van die Engelstalige wêreld om die Afrikaner as ’n eiesoortige volk uit te wis. Wat ook al die bedoeling was, het die Afrikaner en sy kerk deel geword van ’n sekulêre, sosialistiese staat en was die vorige bedeling ’n verwerplike lewenspatroon.

As gevra word na die Afrikaner se geloofs- en lewensopvatting, kan miskien verwys word na ’n vroeë uitleg daarvan volgens ’n uitspraak van die latere president van die ou Zuid-Afrikaansche Republiek, SJP Kruger, in 1882: “...op die staatkundige terrein bely ek die ewige beginsels van God se Woord. Die fondament en grondslag van ons staatsgebou moet reg en geregtigheid vir alle klasse van die bevolking bring ... Oor die algemeen bedoel ek daarmee dat ons, wat op die wortel van ons volksgeskiedenis as Republiek opgroei, met erkenning van God se leiding in die verlede, dit wat reeds bestaan, as uitgangspunt neem van ons eendragtige strewe na nasionale wasdom ...” (JS du Plessis, President Kruger aan die Woord, Bloemfontein, 1952)

Hier kan daarop gelet word wat dat “die ewige beginsels van God se Woord” verwys na die Belydenisskrifte van die Afrikaanse kerke nl. die Nederlandse Geloofsbelydenis (1561), die Heidelbergse Kategismus (1563) en die Dordtse Leerreëls (1618-1619). Dit was hierdie beginsel van ’n Christelike staat wat saam met die Grondwet van 1961 in 1994 laat vaar is. Die situasie nou is dat in die nuwe bedeling die land die Christelike kerk verdra sal word solank dit nie inmeng in die ideaal om ’n sekulêre, sosialistiese staat op te rig nie.


Wat is die kenmerkende en die doelwitte van ’n Reformatoriese kerk ? Daar kan begin word om daarop te wys dat die woordjie kerk ’n Afrikaanse weergawe is van die Griekse woord kuriakē [dit wat, of die gemeenskap wat, aan die Kurios = die Here Jesus Christus behoort]. Dit is dus dié mense of gelowiges wat deur die teken van die Doop uitgewys word as mense wat deel of lid is van die Verbond met God en volgens die reël van die Verbond leef.

Dan is daar die beskrywing van die kerk in die Nederlandse geloofsbelydenis van 1561, art. 29 wat ’n aanvulling van die Apostoliese Geloofsbelydenis uit die jaar 100 is en van die Geloofsbelydenis van Nicea van 325, art 10 en die Heidelbergse Kategismus van 1563 – vraag en antwoord 54. By die nagaan van die Reformatoriese leer van die kerk moet in gedagte gehou word dat die mens deur die sondeval “die gebod van die lewe oortree het en homself, deur die sonde, losgeskeur het van God” (NGB. Art. 14). Om ons uit die sonde te verlos het God Sy Seun gegee as ’n losprys sodat “ons geluksaligheid geleë is in die vergewing van ons sondes om Christus ontwil”(NGB Art. 22 – 24). Nou is die kerk die saamvoeging van hierdie gelowiges. Hulle word byeengebring in die kerk (NGB Art. 27 – 29) en die kenmerk van daardie kerk is: wanneer die kerk die evangelie (die goeie boodskap van Jesus Christus) preek, die sakramente suiwer bedien en die kerklike tug (dissipline) gebruik om die sondes te straf. Daarby word gesê dat dit God is wat deur Sy Woord wat gepreek word en dit Sy handelinge wat die gelowiges in die kerk byeenbring. Die kerk is dus ’n breë begrip en nie net die ampsdraers (die diensknegte van God ten behoewe van die kerk) nie, maar die gelowiges daarby ingereken. So gesien is die kerk ook nie (as dit goed is) die ampsdraers of ’n vergadering van ampsdraers nie - soos in die Roomse kerk waar die kerk daar is waar ’n priester (die verteenwoordiger van die pous), teenwoordig is. ’n Ampsdraer in ’n reformatoriese kerk is slegs ’n dienskneg van Christus ten behoewe van die gelowiges (die kerk).

In Art. 29 van die NGB word ook die aard van die valse kerk verduidelik. Dié kerk skryf aan homself en sy besluite méér mag en gesag toe as aan die Woord van God want

• Dit wil homself nie aan die juk van Christus onderwerp nie,
• Dit bedien die sakramente nie soos Christus dit in sy Woord beveel nie, maar neem weg en voeg byna goeddunke,
• Dit vertrou meer op mense as op Christus,
• Dit vervolg hulle wat volgens die Woord van God heilig lewe en die valse kerk oor sy euwels, gierigheid en afgodery bestraf.

As dit gestel word, moet ook beklemtoon word dat die ware kerk onveranderlik is, net soos dit in die Bybel beskryf word. Die kerk deur die eeue is dieselfde en een in die geloof. So is die eenheid VAN die kerk - die waarheid, naamlik, dat daar net een kerk is wat die liggaam van Christus is (1 Kor. 12), net soos daar net een kudde van die Goeie Herder is.

As gevra word na wat die hervormde kerke wat voortbou op die fondament wat deur Johannes Calvyn gelê is, hieroor verwoord in hulle Belydenisskrifte en wat as algemeen aanvaar beskou kan word, dan kan verwys word na die Tweede Switserse Geloofsbelydenis van 1566. (Die formulerings van die Skotse Belydenis van 1560 is miskien ’n bietjie minder presies as die NGB of die Westminster Belydenis.) Die Switserse Belydenis lê die klem op die godsdiensoefening, die kerklike orde en die diens van die dienaar van die Woord. As sodanig is dit miskien een van die beste samevattings van die Calvinistiese Belydenisskrifte van die 16e eeu.

Dit wat die eenheid VAN die kerk betref. Maar die beslissende saak is die eenheid MET die liggaam van Christus - met ander woorde : die eenheid in geloof, die eenheid in en van en die aard en inhoud van die godsdiensoefening, die eenheid in die handhawing van die dissipline in en van die kerk.

So kan dit duidelik word waarom in ons dae die stelling in die Heidelbergse Kategismus verwerp word deur die NHKA en diegene wat dit handhaaf, dat die mens van nature geneig is om God en sy naaste te haat (’n sondaar is), en uit daardie struktuur verjaag word. Want die basis van die sosialistiese filosofie wat daar, so lyk dit, die gedagtes gevange hou, is dat die mens in homself goed is, tot alles in staat is en geen God nodig het nie ... van daar ook dat die geleerde Bybelwetenskaplikes wat die Bybel verwerp as “menspraatjies oor God” in die NHKA op die hande gedra word. Hier lê miskien ook die verklaring waarom die Skriftuurlike ampsbegrip, waar die ampsdraer gesien word as ’n dienskneg van Christus wat geroep is om Sy kudde te versorg, verwerp word. Die NHKA word mos gesien as ’n gewone menslike vereniging waar die die “top-bestuur” die septer swaai. Dit hang seker saam met die stelling van ’n NHKA kerkvors al ’n paar jaar gelede gemaak het toe hy gesê het: “Die Belydenisskrifte is nie algemene geldende waarhede nie. Dit is slegs antwoorde wat in krisistye na vore gekom het. ... Alles wat in die Belydenisskrifte vervat is, is ook nie meer vandag algemeen geldend vir die belydende lidmaat nie ... “ Daarmee, so lyk dit, het die NHKA die band met die kerk van Christus eintlik gerepudieer.

Daarom is dit tog merkwaardig dat die predikante van die NHKA alleen tot hulle amp toegelaat word nadat hulle skriftelik verklaar het : “... dat ek die leer wat uitgedruk is in die Formuliere van Eenheid (die NGB, die HK en die DL) van harte onderskryf en dat ek daarvan vas oortuig is en glo dat dit volkome in ooreenstemming is met die Woord van God. ...” Maar niemand in die NHKA het teen die bogenoemde standpunt beswaar gemaak nie!

Miskien hang dit saam met die feit dat verskillende geleerdes in en van die NHKA verklaar het dat wetenskaplik gesproke die Bybel niks meer is as “menspraatjies oor God” nie en dat dit sommer ’n storietjie is dat Jesus Christus die Ewige Seun van God is want die Jode weet dan te vertel dat Jesus maar net ’n optelkind van Maria by ’n Romeinse soldaat was. En opvallend was dat diegene wat getrag het om die gesag van die Belydenisskrifte te handhaaf om die Bybels-reformatoriese karakter van die kerk te handhaaf, deur die topstruktuur van die kerk aangesê is dat hulle “bedank” het ...

Dis nogal interessant om terselfdertyd na die getalle van die NHKA te kyk. In 1992, toe ek afgetree het en al hierdie sake nog nie so duidelik na vore gekom het nie, was daar 192 759 lidmate in die kerk ... en in 2017, volgens die Almanak van 2019, was daar net 89 131 oor. Maar dit is seker nie toevallig nie, want ook op ander terreine is daar hard gewerk om die NHKA af te bou... Dit lyk asof die ideaal is om die NHKA te sluit, soos in Nederland met die Nederlandse Hervormde Kerk en die Gereformeerde Kerken in Nederland gebeur het, met ywer nagejaag word.


Waarom wyk die kerke af van die Reformatoriese beginsels ? Die antwoord op die vraag word reeds gegee deur die Heidelbergse Kategismus, Sondag 3 en 4. Daar word daarop, gewys dat God die mens “goed en na Sy ewebeeld geskape het” maar deur die verleiding van die Satan en die eiesinnigheid van die mens het hy God se wet verbreek. Soos die Kategismus sê: Daar in die paradys, het Adam en Eva in opstand teen God se reël en wet gekom en “daar het ons mense se natuur so verdorwe geraak dat ons almal in sonde ontvang en gebore word ...”

Daarom dat daar geskrywe staan: “Niemand besit enige bevoegdheid om iets te doen as dit nie uit die hemel aan hom gegee is nie “ (Joh. 3:27). Juis daarom is dit so dat God self ingegryp het om die mens weer te verlos uit die magsgreep van die sonde waarin hy verval het en dit het God gedoen deur Jesus Christus, ons Verlosser en Here. Maar omdat die mens van nature, soos hy is, ’n sondaar is en in opstand teen God, moet die gelowige stryd voer teen die sonde in homself en daarin kan hy eintlik nooit volledig slaag nie.

In ons dae is ons eens Christelike samelewing en orde verwerp en vervang deur die poging om nou ’n sekulêre sosialistiese samelewing te vestig waar die mens self sy toekoms in sy hande neem... Breedweg kan mens sê dat in 1994 die Wet van God (die Tien Gebooie en alles wat daarmee saamgaan) verwerp is, om ’n nuwe sekulêre samelewing op die basis van die Freedom Charter van 1955 te bou.

Skynbaar was hierdie verandering vir baie kerklike leiers en kerkvorste ’n verandering ten goede en doen hulle alles in hulle vermoë om die kerk te laat aanpas aan die eise van die nuwe orde. Die kerk was dan sogenaamd ouderwets en uit die tyd en is die argument gehoor dat alles wat oor God en die hemel gesê en gepraat word, ’n aards-menslike oorsprong het. Daarom is die Bybel maar net “mens-praatjies oor God...”

En so word die bewys gelewer - as mens dit so mag stel - dat die Heidelbergse Kategismus tog reg is as hy sê dat die mens van nature geneig is om God en sy naaste te haat ... en as mens dit nie glo nie, lees dan net ’n Sondagkoerant!


Slotopmerking:
Die breuk met die NHKA wat in 2010 tot die ontstaan van die Geloofsbond gelei het, was te danke aan die feit, so lyk dit, dat die geleerde Bybelwetenskaplikes in die Kerk enersyds en die topbestuur andersyds besluit het om ’n leer-beslissing van die World Alliance of Reformed Churches te aanvaar en toe te pas. Dit het daarop neergekom dat hulle die stelling in die Heidelbergse Kategismus van 1563, Sondag 2, Vraag en Antwoord 5, verwerp het. Daarmee het hulle, sonder om die ampsdraers en gelowiges in die NHKA, wat tog die kerk is, uitvoerig te raadpleeg ’n kernstandpunt in die kerk se Geloofsbelydenis, verwerp. Almal wat toe nie met hierdie nuwe insig saamgestem het nie, is aangesê dat hulle uit die kerk “bedank” het!

Nou is dit miskien nodig om te onthou dat in die Nederlandse Geloofsbelydenis van 1561, Art. 29 die volgende gesê word : “Die kenmerke waaraan ons die ware kerk uitken, is wanneer die kerk die Evangelie suiwer preek, die sakramente suiwer bedien soos Christus dit ingestel het en die kerklike tug gebruik word om die sonde te straf.” En dan is die evangelie wat suiwer gepreek moet word, saamgevat in drie hoofstukke: Wat is die sonde van die mens? Wat is die verlossing van die sonde deur Jesus Christus, die ewige Seun van God? en Wat is die dankbaarheid wat die mens aan God verskuldig is vir die verlossing?

Maar nou het die topbestuur van die NHKA skynbaar besluit dat die mens nie ’n sondaar is nie en dat daar nie iets soos sonde bestaan nie. Met ander woorde: die verlossing uit die sonde deur die soenoffer van Jesus Christus, die Seun van God aan die kruis, is eintlik maar fiksie ... ’n versinsel. Skynbaar aanvaar die Bybelwetenskaplikes saam met die Joodse Talmud dat Jesus niks meer as ’n optelkind van Maria by ’n Romeinse soldaat was nie ... Met ander woorde: die Evangelie van die verlossing uit die sonde, soos die apostels dit verkondig het en in die Bybel opgeteken is, is nie waar nie ... Immers, as die mens nie ’n sondaar is nie en in staat is om goed te doen en self sy verlossing te verdien, is die plaasvervangende verlossing deur Jesus Christus onnodig...

Dit is ’n hele verskuiwing ... omdat die Bybel as ’t ware “afgeskaal is” sodat dit niks meer is as “menspraatjies oor God” is nie en dan is die Sondagse byeenkoms nie meer ’n godsdiensoefening nie, want die geleerde Bybelwetenskaplikes het mos vasgestel daar is nie iets soos ’n “God” nie... Dan is die samekoms op Sondag niks meer as samekoms op Sondag ter wille van ontspanning of net samesyn of wat ook al !

Miskien is dit tog interessant om te let op ’n stelling uit die Nederlandse geloofsbelydenis van 1561, Art. 29. Daar word gesê: “Wat die valse kerk betref : Dit skryf aan homself en sy besluite meer mag en gesag toe as aan die Woord van God; dit wil homself nie aan die juk van Christus onderwerp nie, dit bedien nie die sakramente nie soos Christus dit in Sy Woord beveel het nie, maar neem weg en voeg by na eie goeddunke; dit vertrou meer op mense as op Christus en dit vervolg hulle wat volgens die Woord van God heilig lewe en die valse kerk oor sy euwels, gierigheid en afgodery bestraf. Hierdie twee kerke kan maklik uitgeken en van mekaar onderskei word.”

Nou kan ten slotte gesê word dat die kerk in die 16e eeu ook maar met groot probleme geworstel het. Daarom is dit miskien so dat die NHKA worstel met ’n probleem wat vanselfsprekend is omdat die mens van nature geneig is om God en sy naaste te haat.